DIE BEGIN

De Villiers gesin

WAAR HET MORIA BEGIN

WAAR EN WAAROM HET MORIA BEGIN?

Die Here het ons geseën met drie pragtige dogtertjies. Wat ‘n vreugde om elkeen te sien ontwikkel. Elkeen se persoonlikheid verskil van ekstrovert, introvert, besadig, lewendig, akkommoderend, leergierig, en veral leesgierig;  en wat is wonderliker as ‘n storie? Storietyd voor slaaptyd word nooit gemis nie, maak nie saak waar ons is nie. Geen probleem om almal gereed te kry vir ‘n goeie storie se voorlees wat oorgaan in ‘n Bybelstorie nie. Televisie was nie deel van hul grootword nie en vinnig het elkeen sy eie beeld in sy kop gehad van die storie karakter en die omgewing. Van eenvoudige kinderboeke tot FA Venter se trilogie. Net soos elke mens ‘n storie het, het Moria ook ‘n storie.

Ons storie begin met ons middelste dogtertjie,  ‘n Downsindroompie. Ewe skielik word ons in die diep kant gegooi met die vereistes van ontwikkeling van ‘n mensie. Arbeids-, fisio- en spraakterapeute word genader en ‘n pad van leer en verwondering oor hoe fantasties die Here elke mens gemaak het, volg.  Dag-vir-dag is ontwikkeling van die volle mens op elke vlak nagelees en wat nie natuurlikerwys gekom het nie is met terapie ingeoefen. Uiteindelik is ‘n Europese program gevolg wat geïntegreerd te werk gegaan het.

Intussen ontstaan onderwys-woelinge op die tuisfront. Die noodsaaklikheid van ouer-betrokkenheid lei tot samewerking met die Amerikaanse tuisskoolvereniging en op 15 November 1996 word Wet 84 van 1996 gepubliseer en tuisonderwys word amptelik erken as wyse van onderrig.   Moria Tuisskoolmateriaal kon nou amptelik geregistreer word. 

Die jare se kennis en ervaring van die leerproses en ontwikkeling van alle kinders, ook in die onderwys, het nou handig te pas gekom in die seleksie en ontwikkeling van materiaal. 

Moria – wat “deur die Here voorsien” beteken – bou op die fondament van die Bybel, want “die vrees van die Here is die beginsel van die kennis” en die wonder van elke kind,  liggaamlik, emosioneel en geestelik, kan net uit die hand van die Perfekte, Alwyse Skepper kom.

Omdat die Here elkeen se talente uitdeel, is Moria se tweede pilaar hoë akademiese standaarde sodat elke kind kan word wat die Here vir hom/haar bepaal het. GEEN lewe op die aarde is sinloos nie en elke ouer het die taak om sy/haar kind te begelei om te weet wat die sin van sy/haar lewe is. Om die beste standaarde te bereik, verg  daagliks nalees en ondersoek na  suksesvolle  onderwysstelsels regoor die wêreld en daardie fasette word voortdurend in die werk ingebou. Ons glo dat die Afrikaners se genepoel nog die seën van die Here dra en daarom mik ons ook na die hoogste matriekkwalifikasie internasionaal, naamlik die A-vlakke.

Ons derde pilaar is die erkenning dat die Here elke kind in ‘n bepaalde bevolkingsgroep en taal geplaas het. Om daardie rede hoef geen Afrikanerkind skaam te wees dat hy/sy ‘n blanke Afrikaner is met Afrikaans as moedertaal nie. Geen mens het inspraak gehad in wie en wat hy/sy is nie, hy is deur die Skepper geskep. Dit is ‘n gegewe gawe van Bo en daarom koester ons ons Afrikaner kultuur en in besonder ons eie Afrikaanse taal.

Ons lewensasem is ‘n gawe van God

            om uit te leef tot sy eer

                        in ons kultuur

                                    en ons taal en         

                                                om ons talente en gawes aan te wend

                                                            om Sy koninkryk te laat kom en

                                                                        Sy Naam te heilig  in ‘n koerslose wêreld.