WAT SÊ MORIA-OUERS & -LEERDERS

Christelik, Afrikaans, Uitnemende Standaard

Monja

Ek is so trots dat ons by Moria is. Ek het ‘n groot verskil in my dogter gesien sedert sy tuisskool. Haar selfvertroue het weer gegroei. Sy is baie gelukkiger. Sy lag en speel en is vol kindwees. Ons kyk nooit weer terug nie. Dit was hartseer om haar daagliks depressief te sien uitkom by die skool. Ons is nader aan mekaar as ouer en kind. My hart sing van blydskap dat sy gelukkig is.

Ons Hemelse Vader het Moria op ons pad laat kom. Daarvoor prys ek God!

Nogmaals baie dankie aan Oom en Tannie.

Natasha Combrinck

Baie dankie vir ‘n pragtige en baie intressante leerprogram. Veral die manier waarop vakke aangebied word. Selfs ek, wat ‘n gevaar in Wiskunde is, kan eerlike sê ek verstaan wat aangaan – en dit opsigself is ‘n prestasie.

Thomas & Elena Gouws:

Daniëlle is op 22 weke gebore en het slegs 695 gram geweeg. Sy het geen weerstand teen siektes nie, sukkel met asma en het ADHD. Toe sy geen maaitjies in graad 2 in die staatskool gehad het nie, gespot was omdat sy gereeld in die hospital was en ‘n mede skolier haar probeer verwurg het, het ek besluit: Dit is genoeg. Dit het my hart gebreek as sy elke oggend huil: “Asseblief Mamma, ek wil nie skool toe gaan nie.” My paaie het met Moria gekruis deur ‘n verwysing van my Pastoor. Ek was bang. Doen ek die regte ding? Ek het Moria geskakel en met Hannes gesels. April 2018 het Daniëlle haar boeke ontvang. My en my kind se lewe het net daar verander. Sy het skool begin geniet en het baie goed gedoen in haar November-eksamens. Ek is nie ‘n dag spyt dat ek my kind tuisskool nie en sy geniet haar skoolwerk. Moria maak die skoolwerk lekker en intressant met nuwe uitdagings.

Dr. Lientjie Angell:

Liewe Moria Tuisskool leerling en Mamma,

Dis min of meer vandag 17 jaar sedert die eerste paar skoolweke van my matriekjaar en terwyl ek so terugdink, het ek gedog dit sal lekker wees om vir al die Moria leerlinge wat self begin het met hulle nuwe skooljaar, ‘n briefie te skryf.

Ek sit hier by my lessenaar in ons huisie in Bedfordshire, met die wit sneeu van die Britse winter buite die venster, en ek onthou nog soos gister die gevoel van ‘n nuwe skooljaar en nuwe handboeke. Ek onthou die deurlees van die eerste paar weke in die jaarbeplanner, waar die prentjies baie meer aantreklik was as as die inhoud van die tablelle! Ek onthou hoe ek my handboeke in kleurvolle papier oorgetrek het, in die hoop dat dit die massas werk binne-in bietjie sal opvrolik en ek onthou die gespanne knop op my maag aan die begin van elke nuwe skooljaar, geknoop in die onsekerheid en vrees vir die onbekendheid van die nuwe jaar. Gaan ek die mas opkom? Gaan ek betyds deur die massas werk kom (soveel meer as wat my maats in die gewone skole hoef deur te werk!)? Gaan ek al die wiskunde verstaan?! En bowenal, is my ouers besig met die regte ding?

 

Nicolene Steyn:

Altyd behulpsaam en baie vriendelik. Mens kan enige tyd bel en word dadelik vriendelik gehelp. Die oom en tannie is wonderlike mense. Sal Moria enige dag sonder huiwer aan bevel.

Jan en Chanell Crous:

Ons geniet Moria se werkboeke vreeslike baie.  Dis baie volledig en maklik verstaanbaar.  Oom Hannes en Tannie Helena is altyd reg om te help en sal die ekstra myl stap as mens op hulle knoppie druk.  Mens kry nooit die gevoel dat jy hulle pla as jy bel nie.  Hulle is altyd baie vriendelik en beleefd. Ek moes in 2018 besluit in watter kleuterskool ek Elizna gaan sit sodat sy voorbereid kan wees vir skool as sy Gr R toe moes gaan in 2019.  Iets het my net heeltyd gekeer om kleuterskole te gaan besoek – ek was net te besig met ander goed.

Ek het gebid en vir die Here gevra om my te lei in die soektog want dit was vir my baie swaar omdat sy heeltyd by my is.  Die Here het my toe baie duidelik geantwoord en gesê: “Chanell, jy moet jou kinders tuisonderrig.” Tuisonderrig was nooit ‘n opsie vir my nie en ek het dit glad nie oorweeg nie, tot ek die stem van die Here gehoor het. Na lank gesoek op die internet na tuisskoolinstansies (want ek het absoluut geen kennis van tuisonderrig gehad het nie) het ek so per ‘toeval’ by Moria uitgekom. Ek het, nadat ek al wat ‘n ander webblad is, uiteindelik by Moria se webblad ingegaan. En wat sien ek? ‘n Foto van Tannie Helena. 

Ek het haar dadelik herken want ek en haar dogter, Marguerite, het saam gimnastiek gedoen én ons was saam op skool. Op die manier het God my na Moria gelei en het ek geweet dis waar ons moet wees. Hoë standaarde en Bybelse beginsels.

Truida Swart:

Beste skoolprogram.

Hannetjie Robberts:

Dit was ‘n voorreg om vir 13 jaar deel van julle te wees. Mag julle net verder van krag tot krag gaan.

Lindi Cilliers:

Baie dankie vir die tyd wat my kind deel was van die Moria-familie. Hy het so baie geleer en gegroei. Ek beveel julle aan vir elke persoon wat navraag doen oor tuisonderrig.

Christelle de Villiers:

Beste Oom Hannes

Ek deel graag wat die waarde van doelgerigte tuisonderrig is.

Ons het die afgelope paar jaar die eklektiese stelsel gevolg…. ietsie so van alles, ‘n tyd ge-“unschool” en wanneer ‘n mede-tuisskoolouer vir my vertel van ‘n oulike boek waarop hulle afgekom het, dan probeer ons dit sommer dadelik. Die gevolg hiervan is dat jy so verswelg word in al die materiaal wat beskikbaar is en die “going thing” dat jy opeindig om jou kinders ‘n bietjie van alles gee maar niks pas nêrens in nie. Stukkies niks.
Dit was verseker nie ideaal nie, en ek het totaal en al buite beheer en onseker gevoel. Ek kon sien my kinders het nie struktuur nie, en hulle het nie altyd saamgewerk nie want alles is so “flexible”.
Ek het nie geweet waarheen ons oppad is nie. Dit het vir my gevoel ek stuur my kinders die wêreld in maar hul tasse is leeg. Ek het gewonder hoe gaan ek hulle deur matriek, ‘n Universiteit of Instansie vir tersiêre onderrig kry?

Ons het besluit om ‘n vasgestelde kurrikulum te volg, en het op Moria afgekom.
Toe die boks boeke by ons arriveer het ek amper flou geval. Ek het nie geweet hoe op dees aarde ek al hierdie werk gedoen gaan kry nie. Boonop was alles vir my nuut – vasgestelde vakke, ‘n dagplan, eksamens ensovoorts. Ons het toe begin en ons kyk nooit weer terug nie. Uiters doelgerig, met ‘n plan, stap vir stap, toepaslike inhoud. Almal weet wat verwag word en waarheen ons oppad is. Die kinders het so vinnig aangepas by die nuwe stelsel. Hulle is gelukkig, en ons sien ongelooflike vordering. Hulle tassies raak elke dag voller.

Hierdie kurrikulum is uiters DOELGERIG en die inhoud is FANTASTIES. Ek sal elke tuisonderrig ouer aanbeveel om Moria te gebruik. Baie dankie!!!

Die Groenewald-gesin

Goeie môre oom en tannie

Ek wil graag Moria bedank vir al die ondersteuning, hulp en raad wat net ‘n e-pos of oproep vêr is. Ons het bang begin laas jaar, maar die goeie leermateriaal van Moria het dit vir ons maklik gemaak om deur te werk elke dag. Stapsgewys word alles verduidelik en dit in ons eie taal: Afrikaans!  

Ons het as ouers ‘n groot verandering in haar gesien toe sy begin tuisskool. Ons het ons oulike en gelukkige kind terug! Met Moria het haar selfbeeld so gegroei. Geen meer trane oor afknouery of groepsdruk nie. 

Mag Moria van krag tot krag gaan! Mag God Sy Vaderhand oor julle en Moria Tuisskool hou en beskerm. 

Baie dankie aan oom Hannes en tannie Helena met julle hulp en raad as ek elke keer gebel het met al my onsekerhede en tonne vrae. 

Haar punte spreek boekdele! Ek is so trots om deel te wees van julle!!