VRAE EN ANTWOORDE (V&A)
Mees algemene vrae en antwoorde
Kyk gerus deur ons webwerf. As u nog vrae het kontak ons gerus en ons stuur vir u inligting per e-pos.
Moria:
- se medium van onderrig is slegs Afrikaans.
- Is trots op ons Afrikaanse taalonderrig en ons Afrikaner kultuur.
- Is Christelik – met Bybelonderrig en behoudende voorgeskrewe boeke vir Afrikaans en Engels. (Geen kerk denominasie dogma word gepropageer nie.)
- Het uitnemende akademiese standaard, met Cambridge vir Graad 10-12.
- Twee unieke vakke is onder andere “Entrepreneuriese Ingesteldheid” en “Noodhulp”.
- Het geen ontydige geslagsvoorligting of ander inhoud (byvoorbeeld lewensoriëntering) waarteen die Bybel waarsku nie.
- Moria verskaf alle nodige handboeke, antwoordsleutels, apparate en hulpmiddels vir ouers om hulle kinders tuis te onderrig.
- Einde kwartaal 1 en 2 stel ouers kort vraestelletjies vir Afrikaans Engels en Wiskunde op.
- Kwartaal 4 (November se eind-eksamen) word deur Moria opgestel (prosedure vir verskillende grade verskil effens) en op Zoom aanlyn afgeneem, waarna Moria die antwoordstelle nasien en die leerder ‘n rapport ontvang.
- Ons is nie ‘n aanlyn skool met kontaksessies wat intyds “klasgee” nie. Ons beoog wel om in die toekoms vir elke hoofstuk ‘n video beskikbaar te maak wat die kern begrippe uitlig en die moeiliker onderwerpe verduidelik.
- Opgeleide akademiese personeel is wel ‘n oproep of e-pos weg om te help waar nodig.
- Aanlyn akademiese kontak-sessies word ook geskeduleer ter voorbereiding vir eksamens vir meer ingewikkelde vakke.
- Indien ekstra-klas van ‘n akademiese tutor benodig word, kan leerders teen addisionele vergoeding, zoomklasse by ‘n tutor vooruit bespreek.
Ja julle is welkom.
Normaalweg wil skole en tuisonderrig-stelsels nie leerders inneem ná Maartmaand nie. Moria neem hulle wel in. Ouers van sulke leerders moet net kennis neem van die volgende uitdagings:
- Indien ‘n leerder aan die begin van kwartaal 2 begin, het hy ‘n agterstand van kwartaal 1 se Moria-werk, wat met harde werk oorkom kan word.
- Die leerder kom nie noodwendig van ‘n ander stelsel wat vergelykbaar is met die Moria-kurrikulum nie. Dit word dan soms ‘n uitdaging om te bepaal of die leerder op datum, voor of agter die Moria-kurrikulum is.
- Elke Moria-handboek dek een hele jaar se werk van die betrokke vak. Dit beteken dat ouers die volle jaar se boeke moet aankoop en hulle raak soms ongerieflik daaroor.
- Elke kwartaal het Moriapersoneel ander verantwoordelikhede, programme en aksies. So werk ons ná Maartmaand aan die opgradering van handboeke. Indien ouers dan ‘n bietjie moet wag vir ‘n spesifieke boek, raak hulle soms ongerieflik daaroor.
Indien u bereid is om bogenoemde uitdagings te aanvaar, is u welkom om by Moria, na Maartmaand te registreer.
- Ja, want Moria se sillabusse verskil.
- Dit kan moontlik wees dat die kind byvoorbeeld van kwartaal 2 se werk eers sal moet doen, voordat hy kan aangaan na kwartaal 3.
- ‘n Leerder wat Januarie begin, leer in die 1ste kwartaal ⅓ van sy handboek, 2de kwartaal nog ⅓ en die 3de kwartaal die laaste ⅓. Kwartaal 4 is slegs hersiening. Kwartaal 1, 2 en 3 het elkeen ongeveer 11 weke se werk per kwartaal (totaal 33 weke). Dalk is die leerder wat aan die begin van die 3de kwartaal by Moria begin, voor (verder gevorder) met Afrikaans, agter met Engels en presies op datum met Wiskunde. Met Afrikaans en Wiskunde sal die leerder dus dadelik begin by die werk van die laaste ⅓ van sy handboek. Met Engels is die leerder dalk nou eers by einde van die 1ste kwartaal se werk. ⅓ van die boek is dus gedoen en die laaste ⅔ van die boek moet deur 11 gedeel word om te bereken hoeveel bladsye elke week afgehandel moet word sodat hy alles klaar het aan die einde van die 3de kwartaal.
- Eksamens word afgelê oor die hele jaar se werk van Moria se kurrikulum.
- Leerders moet dus voorbereid wees oor die hele jaar se Moria-werk om eksamen te skryf.
Suid-Afrikaanse leerders is volgens wet skoolpligtig tussen ouderdomme 7 en 15 jaar. Die Suid-Afrikaanse Skolewet, (no. 84 van 1996) sê dat ouers wat hulle skoolpligtige kinders wil tuisonderwys, by hulle provinsiale onderwysdepartement aansoek moet doen. Die minderheid van die Suid-Afrikaanse tuisskoolouers registreer volgens dié wet, by die onderwysdepartement omdat daar soms onredelike eise en onwettige voorskrifte van die tuisskoolouers verwag word en dit wil voorkom asof daar doelbewuste pogings aangewend word om leerders tuisonderwys te ontsê. Ons beveel ouers aan om by die Pestalozzi Trust aan te sluit. https://pestalozzi.org/wie-is-ons/
Die Beginstap, Middelstap en Laastestap Pakket is vir ouers wat die jaar se boeke oor 3 paaiemente wil AFBETAAL.
- Afbetaling werk duurder uit as ‘n eenmalige enkel bedrag betaling.
- Afbetaling beteken dat die administrasie, verpakking, hantering en versending vir meer as een pakkie gedoen moet word.
- Die drie paaiemente / stappe word genoem, Beginstap, Middelstap en Laastestap.
- Die drie stap-pakkette moet in drie opeenvolgende maande bestel en betaal word, deur die Registrasieproses op die webtuiste vir elkeen van die 3 stappe te volg.
- Die jaar se werk word in 3 verdeel:
- Wanneer die Beginstap pakket bestel word, word slegs ‘n derde van die jaar se boeke gelewer. Voorbeeld: Dit kan beteken dat byvoorbeeld vakke 1, 2 en 3 van 9 vakke se boeke volledig gelewer word en niks boeke van die ander 6 vakke nie.
- Die Middelstap pakket is ‘n tweede derde van die jaar se boeke (Koop 1 maand na aankoop van Beginstap). Dit kan beteken dat byvoorbeeld vakke 4, 5 en 6 van 9 vakke se boeke volledig gelewer word en niks boeke van die laaste 3 vakke nie.
- Die Laastestap pakket is ‘n laaste derde van die jaar se boeke (Koop 1 maand na aankoop van Middelstap). Dit kan beteken dat byvoorbeeld vak 7, 8 en 9 van die 9 vakke se boeke volledig gelewer word.
- Die leerder sal slegs gereed wees vir eksamen indien die Beginstap-, Middelstap- EN Laastestap se boeke aangeskaf en deurgewerk is.
- Die Laastestap Pakket word op die laatste teen Julie aangeskaf sodat daar genoeg tyd gelaat word om deur die laaste derde van die werk te kom voor die eksamen.
Moria sillabusse omvat meer as “CAPS” in graad 1 – 9 om die leerders voor te berei vir die oorskakeling na die internasionale Cambridge-stelsel (graad 10 – 12). Ons bly by ons 3 kernwaardes van uitnemende standaard, Christelike beginsels en ‘n trots op ons Afrikaanse kultuur.
Skole het gewoonlik nie ‘n probleem om ons kinders terug te neem nie, omdat ons standaard hoër is as die van die staatskole.
Vir die Moria-pryslys, volg die skakel hieronder. Die Pryslys word jaarliks opdateer.
1. Gaan op die Moria webwerf na die afdeling REGISTREER.
2. Volg al die stappe om die vorm aanlyn in te vul.
3. Aan die einde van die proses gaan u ‘n gebruikersnaam (username) en wagwoord genereer wat u gaan gebruik om in te teken by MY PROFIEL.
4. Nadat u die vorm ingevul het, en u PROFIEL geskep het, gaan na MY PROFIEL en teken in met u gebruikersnaam (username) en wagwoord.
5. Kies LEERDERS aan die linkerkant van die skerm.
6.Kies KOOP VIR HIERDIE LEERDER.
7. U word nou geneem na die WINKEL waar u die pakket/te kan aanskaf.
8. Volg al die stappe tot waar u betaal by die betaalpunt (checkout).
9. U registrasie is eers volledig indien u die pakket/te aangeskaf het in die WINKEL en die betaling gemaak is.
As gevolg van eksamenadministrasie sal boeke nie versend word vanaf 15 September tot 27 Desember nie. Boekversendings vind plaas volgens reflektering van betalings op Moria-bankstate. Sodra u betaling by ons reflekteer, word die geld aangewend vir u boeke. Registreer dus so spoedig moontlik om daarvolgens gehelp te word wanneer boekversendings hervat.
Oorweeg die volgende stellings:
- Die opdrag van die Skrif in Spreuke is: “Nog ‘n bietjie slaap, nog ‘n bietjie sluimer, nog ‘n bietjie hande-vou om uit te rus; dan kom jou armoede aangeloop en jou gebrek soos ‘n gewapende man.”
- Verder moet ‘n kind ook daarin geoefen word om hard te werk – soos in die volwasse wêreld waar werkgewers ingestel is op produktiwiteit.
- Verder sê die Skrif: “Doen alles asof vir die Here en nie vir mense nie.” Wie wil nou vir die Skepper net halfmas werk en nie jou aller beste gee nie?
Ek sê dus, harde werk kan baie lekker wees, veral as mens sukses smaak en jy ervaar hoe jou eie potensiaal ontwikkel.
Liesbeth
Tuisskool is ‘n groot uitdaging vir ons mamma’s, veral vir my as mamma van 8 kinders. Maar dit is ook bevredigend om te weet dat ek as mamma my kind kan help met die aanleer van ‘n goeie selfdisipline en verantwoordelikheid.
Met tuisskool is dit baie belangrik dat ons mamma’s goeie roetine en beplanning het. Wanneer my kinders nie te veel werk het en alles vlot verloop, maak ek nie altyd vroeg klaar nie, maar doen ek ekstra werk met my kinders, vir die dae dat daar onbeplande dinge voorval soos siek wees, dan weet ek skoolwerk is vooruit gedoen en dan is dit nie nodig om te stres nie.
Al my kinders het huistakies wat voor ontbyt (6:00) gedoen moet word soos byvoorbeeld beddens opmaak, kamer opruim, help tafel dek ens. Na ontbyt tafel afdek, skottelgoedwasser inpak en daarna direk na die skoolvertrek.
Ons skooltyd begin tussen 7:00 en 7:30. Almal, van groot tot klein, sit dan op ‘n mat. Ons begin met Bybel lees en beantwoord vrae en bespreek die les, wat ons moet onthou of leer. Na dit sing ons lekker almal saam. Die kleintjies verlaat daarna die vertrek en gaan bou legkaarte, blokkies of kleur in, in ‘n ander vertrek.
My Graad 1 en 2 kindertjies maak hulle boeke oop en mamma help hulle eerste. Daarna gaan my Graad 3,4 en 6 kinders hulle maaltafels oefen. As ek dan nog nie klaar is met my Graad 1 en 2 kinders mag my graad 3,4 en 6 kinders solank hulle boeke oopmaak en begin want ek weet dit is werk soos plus en minus somme wat hulle selfstandig kan voltooi.
As die jongeres klaar is kan hulle skriftelik werk doen. Ek begin dan my Graad 3 kind help terwyl my Graad viertjie solank sy lêer begin leer terwyl hy moet wag tot ek by hom uitkom. Binne in die lêer is hulle maaltafels, antonieme, sinonieme, versamelname ens. – alles wat belangrik is om geleer te word. Alle kinders van graad 2-6 het so ‘n lêer.
Wanneer ek klaar is met my Graad 3 kan ek Graad 4 begin help. Graad 6 het minder hulp nodig en kan meeste van die tyd selfstandig voortgaan. Met die dagbeplanning wat ek die vorige aand gou gemaak het vir die dag se werk, kan ek sien wanneer my Graad 6 iets nuuts moet aanleer. Die verduidelik ek voor ontbyt.
Dit is baie belangrik om die vorige dag die werkopdragte voor te berei, om alle vakke te kan in spasieer en tog ook by elke kind te kan uitkom.
Ek vind dit ook belangrik om opvoedkundig met my kinders te praat. Bring verdubbel en halveer speel speel tuis, nie net in skooltyd nie. So laat ek hulle byvoorbeeld ook gou die maande van die jaar opsê terwyl ek kos maak of wasgoed ophang. Enige iets wat hulle mondeling kan doen oefen ek so met hulle enige tyd van die dag.
Lees, wat so belangrik is en baie tyd in neem by Graad 1 en ook by Graad 2 in mindere mate, moet elke dag geoefen word. Dit doen ek nie in die oggend se skooltyd nie, maar dit doen ek eers in die middag met hulle.
As laatste lees ek aan die einde van die dag sinvolle en leersame storie boeke vir my kinders voor hulle gaan slaap.
Moria is vir my ‘n baie motiverende tuisonderrig kurrikulum. Dit bied baie praktiese hulpmiddels wat kinders stimuleer en lus maak vir hulle werk. Ek as mamma wat 5 van my 8 kinders nou tuisskool gee, sal enige tyd Moria tuisonderrig aanbeveel!
- Gaan maak ‘n lysie van al die redes hoekom jy wil tuisskool. Hou die lysie naby as motivering.
- Gaan lees wat in die Onderwys wet nr. 84 van 1996 staan asook die departementele regulasies. (Dit kan ook by moriatuisskool.co.za gekry word, by ‘Wetlike aspekte’.)
- Onthou: Jy as Mamma het reeds ‘n skoolloopbaan voltooi en is dus 100% gekwalifiseerd om jou kind te onderrig. Moet ook nie jou Mamma-sintuig onderskat nie. Jy ken jou kind die beste.
- Wanneer jy die boeke ontvang, begin dadelik werk. Tuisskool is harde werk, maar met die regte motivering en dissipline, doen tuisskool leerders verseker beter as kinders in tradisionele skole!
- Moria sluit die volgende in by ons pakkette:
- Handboeke wat eenvoudig ingewikkelde begrippe verduidelik.
- Jaarbeplanners wat Mammas help om seker te maak hulle is op skedule.
- Antwoordsleutels vir moeiliker vakke bv. Wiskunde.
- Telefonies bystand vir enige ondersteuning wat benodig word.
- Aanlyn kontaksessies vir eksamen voorbereiding
Ouers met geen onderwyservaring hoef niks by Moria Tuisskoolmateriaal te vrees nie. Vir die Grondslagfase word onderrighulpmiddels saam met die boeke verskaf soos klei, geometriese vorms en kunsapparaat. Kinders word aangespoor om nuwe kennis en vaardighede self te ontdek deur uitstappies te onderneem en verrykende nalees te doen. Vir Fisiese Wetenskappe word minichemie en -fisika laboratoriumstelle, wat spesiaal vir die leerplan gepak is, addisioneel aangebied. Jaarbeplanners word aan ouers verskaf om ‘n tydlyn voor te stel om seker te maak die leerders vorder teen die regte tempo. Antwoordgidse word ook voorsien om te verseker dat leerders die werk korrek bemeester. Vir enige vrae of onsekerheid oor inhoud van die werk, is Moria-personeel net ‘n oproep of ‘n e-pos ver. Praktyk het geleer dat tuisonderwysouers met geen onderwyservaring of -kwalifikasie geensins swakker gevaar het as gekwalifiseerder onderwysers nie.
Dit kan oorweldigend wees, maar ook baie opwindend! Moria is hier om elke tree saam met jou te stap.
- Om op die kurrikulum te besluit wat jy gaan gebruik, gaan een van die belangrikste keuses wees wat jy gaan moet maak, aangesien jou kind se opvoeding direk hierdeur geraak word. Maak seker waarop die kurrikulum gebasseer is en watter beginsels dit aanhang. Vir meer ingligting oor die oorsprong van ons materiaal en hoe dit aangebied word, volg gerus die skakel: https://moriatuisskool.co.za/wat-bied-moria/
- Bestel jou materiaal. Hier is ‘n vinnige skakel om aanlyn jou pakket aan te koop: https://moriatuisskool.co.za/registrasie-prosedure/
- Rig ‘n doelgerigte werkspasie in. Jy wil steeds “werk” en “fokus” van jou sosiale en alledaagse lewe skei. Navorsing het bewys dat die brein geneig is om beter te fokus in spesifieke omstandighede. Loer hier vir lekker wenke: https://www.psychologytoday.com/za/blog/people-places-and-things/202203/neuroscience-based-home-office-design
- Rig ‘n roetine riglyn in wat julle weekliks kan volg. Elke dag hoef nie presies dieselfde te lyk nie, maar jy behoort ‘n ritme te ontwikkel om te sorg dat jy by elke aspek van opvoeding uitkom. Beplan jou skooljaar op jou kalender om aftye en fokustye te blok. Onthou: beplanning verminder spanning! Jou kind moet uiteraard na ‘n spesifieke doelwit toe werk, maak hom/haar deel hiervan deur in elke vakgebied saam oor die einddoel te besluit. Julle kan bv. stappe afbaken om dit betyds te behaal, om te verseker julle raak nie agter nie. Onthou: leerwerk gebeur nie net agter die boeke nie. Gaan uit, besoek ‘n museum of loop in die natuur. Maak elke avontuur ‘n leeruur!
- Maak van “skool” ‘n gesinsaktiwiteit. Bv. wanneer daar kosgemaak word, gebruik die geleentheid om hotel- en spysenieringskennis op te doen. Ander kere kan die kinders saam met pappa of oupa houtwerk doen as deel van die dag se “skool”. Met tuisskool is die geleenthede sonder einde!
- Dit neem ‘n gemeenskap om kinders groot te kry. Maak seker jy skaar jou by eensgesinde ouers sodat jou kinders ook met ander maats in aanraking kan kom.
- ‘n Nuwe fase verg baie genade. Probeer om rustig en stappie-vir-stappie in die nuwe lewenswyse in te groei.
- Vir enige raad of inligting kontak Moria. Ons kontakbesonderhede is by hierdie skakel beskikbaar: https://moriatuisskool.co.za/#kontak
Geen kurrikulumverskaffer kan by die Onderwysdepartement registreer nie. Tuisskoolinstasies het die reg om ‘n vrye keuse van leerplan uit te oefen solank dit aan die minimum vereistes van die Onderwysdepartement voldoen. Verder het die Departement geen jurisdiksie oor die leerplanne nie, behalwe in die VOO-fase van graad 10 tot 12 as die NSS-eksamens geskryf word. Registrasie by die Departement is slegs geldig van graad 10-12 ter wille van hulle matriekeksamen. Skakel die Pestalozzi Trust wat regshulp verleen aan tuisonderwysouers. https://pestalozzi.org/
- Bestellings word egter versend in volgorde van betaaldatums.
- Geen boeke word gepak en versend vanaf 1 September tot 1 Januarie nie, as gevolg van eksamens.
- Hoe eerder u dus betaal, hoe vinniger kry u al die boeke.
- In die uitsonderlike geval waar verskaffers uit voorraad is, of boeke ingevoer moet word, kan ons soms lank wag en kan u dalk noodgedwonge moet wag.
- Beskikbare boeke word solank gestuur terwyl die ander as na-sending gestuur word, sodat u solank volstoom kan aangaan.
- Ons gebruik min populêre boeke (wat vinnig beskikbaar is). Ons gebruik net boeke wat by ons beleid pas en wat nie altyd so vinnig beskikbaar is nie.
- Ons kan nie nou al belowe wanneer u die boeke sal kry nie maar onthou, die kalender jaar het 52 weke, terwyl die akademiese jaar maar 30 weke het. U het dus 22 weke “vakansie” om te kan rond skuif. U hoef dus nie presies dag en datum saam met die skole se kalender te begin nie.
- Graad 10 tot 12 kandidate van Moria volg die Engelse Cambridge stelsel. Die Cambridge matriek word by alle tersiêre instansies binne en buitelands erken.
- Moria bied nie graad 10 tot 12 self aan nie, maar fasiliteer slegs die Cambridge-stelsel. Dit beteken dat Moria help met vakkeuse, boeke aankope, eksamensentrum- en inskrywingskeuse. Indien ons vak-tutors beskikbaar het, kan kandidate hulle kontak vir akademiese hulp teen addisionele koste per uur (leerder reël self met tutor).
- In graad 10 word begin met IGCSE, graad 11 en 12 AS-vlak (“AS-level”) gedoen, alles die Engelse Cambridge-stelsel. Kandidate wat vir universiteitskursusse soos veeartsenykunde vir keuring wil aansoek doen, kan ook registreer vir die Cambridge A-vlak ná die AS-vlak.
- Wanneer ‘n kandidaat ‘n vak, sê byvoorbeeld Wiskunde op A-vlak moet voltooi, moet wiskunde reeds in graad 10 (IGCSE) geslaag word, daarna Wiskunde AS-vlak geslaag word en dan eers kan hy registreer vir Wiskunde A-vlak.
- Die standaard van die Cambridge-stelsel is hoër as die Suid-Afrikaanse CAPS-stelsel (maar niks onmoontlik nie).
- Moria help net “private candidates”. Dit beteken dat hulle geen aanlyn klasse kry of toetse of take deur die jaar doen nie. Hulle registreer vir eksamen by hulle naaste Cambridge-skool, ses maande voor elke betrokke eksamenvak.
- Die koste hang af van die vakkeuse. Elke vak het sy eie aantal handboeke van verskillende pryse.
- Laat weet of u wil aangaan met Cambridge sodat Moria inligting en registrasieprosedure kan aanstuur.
- Wetenskaplike opvoedkundige navorsing het reeds by herhaling bewys dat moedertaalonderrig (tot ongeveer 10 jaar oud) verreweg die beste is vir kinders se intellektuele ontwikkeling. Google dit gerus.
- Indien een ouer Afrikaans sprekend is en die ander een Engels, word daar soms beide tale in die huis gepraat. Akademie (Lees en studeer) verkieslik slegs een taal.
- “Phonics” van bogenoemde 2 tale se basiese klanke verskil en die volgorde van ontdekking van klanke en gepaardgaande letters verskil ook. (Hoe spreek mens “a” of “c” uit in Afrikaans of Engels?)
- Maak seker of die Engelse ACE-matriek aanvaar word by die instansie waar jou kind na-skool wil studeer, ek weet PUK op Potchefstroom aanvaar nie ACE nie.
- Ons vak Afrikaans is geïntegreer met ander vakke soos skrif en selfs Bybelonderrig, daarom bly dit maar die beste om kinders van Afrikaanse huishoudings, deur medium van Afrikaans te skool.
- Wetenskaplike opvoedkundige navorsing het reeds by herhaling bewys dat moedertaalonderrig (tot ongeveer 10 jaar oud) verreweg die beste is vir kinders se intellektuele ontwikkeling. Google dit gerus.
- Naskoolse opleiding word gerig op die taal van die meerderheid studente in die klas – Engels.
- Die nasionale en internasionale leefwêreld daar buite is ook grootliks Engels.
- Een of ander tyd moet Afrikaanse leerders dus oorslaan na Engels.
- Gewoonlik gebeur hierdie “oorslaan” aan die begin van die eerste jaar op kollege of universiteit.
- Dit behels “chaos”. Nuwe opleidingsinstansie, nuwe taal, nuwe kursus, nuwe werkswyse, nuwe dorp ens.
- Wanneer moedertaal onderrig tot graad 9 afgehandel is en leerders dan NET die taal van onderrig verander, is die “oorslaan” soveel makliker.
- Al bogenoemde bly eers dieselfde, opleidings instansie, kursus, werkswyse, dorp ens., NET taal verander na Engels.
- Dit bly wel ‘n uitdaging, maar op die langtermyn is daar net voordele.
- Junior grade het meer werkboeke waarin die leerders skryf.
- Elke kind werk in sy/haar eie werkboek.
- Wanneer die jonger leerder daardie graad bereik, word slegs die werkboeke aangeskaf.
- Die Weerleer-pakket kan hiervoor aangeskaf word.
- Dit verskil van kind tot kind en van graad tot graad. Die handboeke is van so aard dat kinders gewoonlik op hulle eie kan aangaan.
- Na regte moet iemand beskikbaar wees in geval die kind nie verder self kan aangaan nie. So nie gebeur sukkel, moedeloos, belang verloor en dan mislukte akademiese loopbaan.
- ‘n Voltydse of minstens deeltydse tutor om te help kan werk maar volgens die Onderwyswet MOET ouers ‘n groot deel van die skoling doen.
My kind toon sommige of al onderstaande eienskappe:
- Presteer nie akademies nie.
- kan nie lank sit en konsentreer nie.
- hou van buite speel en rond hardloop.
- is mal daaroor om nuwe goed te ontdek en soms te ontwerp.
- Is gou gefrustreerd en verveeld as hy dieselfde aksie aanhoudend moet herhaal.
- is geneig om baie vinnig komplekse probleme in te sien en op te los.
- hou nie van sit en lees nie.
- Kan nie spel nie.
Moria se mening is: ‘n Relatief klein persentasie van die mense op aarde toon hierdie talente. Hulle is gewoonlik die navorsers, ontdekkers, ontwerpers van nuwe uitvindsels en soms ook die natuur liefhebbers van plant en dier. Ek haal ‘n buite bron aan: Sensoriese kinders funksioneer dikwels beter wanneer hulle genoeg geleentheid het om te beweeg: Daaglikse buitespel, Stap, voetslaan, fietsry, swem, trampoliene (met toepaslike veiligheidsmaatreëls), dans en aktiewe speletjies, klimrame en speelgrond-toerusting. Gereelde oefening kan konsentrasie bou en selfbeheersing verbeter. ‘n Kind wat sensoriese stimulasie soek (ook bekend as ‘n sensory-seeking kind) verlang voortdurend na ekstra sensoriese insette uit sy of haar omgewing. Sulke kinders hardloop, spring, draai, raak aan alles, maak geluide, geniet sterk smake of hou van rowwe speel. Dit beteken nie noodwendig dat daar iets fout is nie. Baie sensoriese kinders is gesond, intelligent en vol energie. Die doel is om hulle te help om die sensoriese stimulasie wat hulle benodig op veilige en positiewe maniere te kry. In plaas daarvan om hul energie te probeer onderdruk, is dit gewoonlik meer effektief om dit in gesonde aktiwiteite te kanaliseer, selfbeheersing te leer en voldoende sensoriese stimulasie te voorsien.
Moria se antwoord: Dank die Skepper dat Hy vir jou bevoorreg het om so ‘n kind te mag groot maak. Hier is ‘n paar wenke:
- Fokus op sy sterk punte en moenie hom afkraak omdat hy nie soos ander, akademies presteer nie.
- Oppas vir medikasie soos Ritalin, maak dood seker dat jou kind dit nodig het en of hy nie dalk “normaal” is net met goeie skaars talente nie.
- Kanaliseer hom in die regte rigting van ontwikkeling en moenie ‘n ronde stok in ‘n vierkantige gat probeer slaan nie.
- Verkort sy akademiese periodes (konsentrasie), met gereelde poses om gou om die huis te hardloop of so iets.
- SOEK storieboeke wat hom interesseer!!!! Dalk oor buite-lewe (byvoorbeeld Tarzan), bouwerk, ontwerp werk ens. om hom so ver te kry OM TE LEES!!! Dit is lewensbelangrik.
- Lees met begrip, leesspoed, spelling, al die ander akademiese vakke baat alles by lees, lees, en lees.
‘n Laaste voorstel is om jou kind intellektueel meer te stimuleer. Oorweeg iets soos “Neuro games” by:
https://www.google.com/search?q=Examples+of+nuro+Games&rlz=1C1GCEA_enZA1037ZA1037&oq=Examples+of+nuro+Games&gs_lcrp=EgZjaHJvbWUyBggAEEUYOdIBCTMyOTEyajBqN6gCALACAA&sourceid=chrome&source=chrome.ob&ie=UTF-8#fpstate=ive&vld=cid:62888ef1,vid:WEaA4blDuWQ,st:0
Dit is ‘n goeie vraag…. Indien tuisskoolouers onderwyskundige kurrikuleerders is, wat presies weet
watter werk hoeveel daarvan en tot watter diepte, elke vak in elke jaar afgehandel moet word, kan eklekties slaag. Indien ouers egter nie gekwalifiseerde kurrikuleerders is nie, moet hulle dalk versigtig.
- Eerstens moet hulle onthou dat elke vak noukeurig en sinvol moet sinchroniseer van een jaar na die volgende, om te verhoed dat kinders in sommige vakke agter raak. Dit gebeur maklik dat enkele vakke wel op datum is maar dat daar by ander vakke, leemtes ontstaan.
- Indien die “belangstelling” van die kind die tempo aangee waarteen daar geleer word, loop die ouers ‘n risiko dat kinders wel agter raak. Moria moes al ouers weg wys wie se kinders volgens hulle ouderdom, nie op standaard was nie. Kinders moes selfs hulle grade herhaal het.
- Skoolstelsels/ kurrikulums van eerste-wêreld lande is vol gepak en vereis van die kinders om elke dag hard, sistematies en doelgerig te werk. Tog kan kinders ook hulle skoolwerk geniet.
- Dit is dus meer voordelig dat kinders reeds vanaf ‘n vroeë ouderdom geskool sal word met ‘n gestruktureerde kurrikulum. Sodoende sal hulle geen probleem hê om eendag die beroep van hulle keuse te volg, want hulle fondasie is reg gelê. Dus staan as werknemer in ‘n pos (of doen aansoek vir een) waar jy hard moet werk, gestruktureerd, sistematies en doelgerig elke opdrag moet uitvoer.
- ‘n Funksionele kurrikulum se afsonderlike vakke sluit ook by mekaar aan om een gesinchroniseerde en doelgerigte denk en leer proses te vorm.
Beste Oom Hannes,
Ek deel graag wat die waarde van doelgerigte tuisonderrig is.
Ons het die afgelope paar jaar die eklektiese stelsel gevolg…. ietsie so van alles, ‘n tyd ge-“unschool” en wanneer ‘n mede-tuisskoolouer vir my vertel van ‘n oulike boek waarop hulle afgekom het, dan probeer ons dit sommer dadelik. Die gevolg hiervan is dat jy so verswelg word in al die materiaal wat beskikbaar is en die “going thing” dat jy opeindig om jou kinders ‘n bietjie van alles gee maar niks pas nêrens in nie. Stukkies niks.
Dit was verseker nie ideaal nie, en ek het totaal en al buite beheer en onseker gevoel. Ek kon sien my kinders het nie struktuur nie, en hulle het nie altyd saamgewerk nie want alles is so “flexible”.
Ek het nie geweet waarheen ons oppad is nie. Dit het vir my gevoel ek stuur my kinders die wêreld in maar hul tasse is leeg. Ek het gewonder hoe gaan ek hulle deur matriek, ‘n Universiteit of Instansie vir tersiêre onderrig kry?
Ons het besluit om ‘n vasgestelde kurrikulum te volg, en het op Moria afgekom.
Toe die boks boeke by ons arriveer het ek amper flou geval. Ek het nie geweet hoe op dees aarde ek al hierdie werk gedoen gaan kry nie. Boonop was alles vir my nuut – vasgestelde vakke, ‘n dagplan, eksamens ensovoorts. Ons het toe begin en ons kyk nooit weer terug nie.
Uiters doelgerig, met ‘n plan, stap vir stap, toepaslike inhoud. Almal weet wat verwag word en waarheen ons oppad is. Die kinders het so vinnig aangepas by die nuwe stelsel. Hulle is gelukkig, en ons sien ongelooflike vordering. Hulle tassies raak elke dag voller.
Hierdie kurrikulum is uiters DOELGERIG en die inhoud is FANTASTIES. Ek sal elke tuisonderrig ouer aanbeveel om Moria te gebruik. Baie dankie!!!
Christelle
- Dit verskil van kind tot kind. Oor die algemeen kan jou kind begin met skool in Januarie van die jaar wat die kind 6 jaar oud word. In enkele gevalle ‘n jaar later of soms selfs vroeër.
- Sosiale aanpassing: Skoolkinders in graad 1 word afgelaai in ‘n onbekende omgewing, tussen ‘n klomp vreemde kinders en ‘n vreemde onderwyseres. Tuisskolers bly egter in ‘n bekende omgewing saam met Mamma.
- Akademiese gereedheid: As gevolg van die sosiale aanpassing, begin kinders nie met graad 1 wanneer hulle dalk intellektueel daarvoor gereed is nie, maar wanneer hulle sosiaal genoeg ontwikkel is. Tuisskolers kan egter begin wanneer hulle intellektueel daarvoor gereed is.
- Indien ‘n tuisskolertjie op 5 jaar ouderdom begin met graad 1, moet ouers net baie versigtig wees om nie te vinnig vordering te verwag nie, maar genoeg tyd moet toegelaat word vir spontane spel.
- Die onderrigmateriaal van Moria is in die verlede al wel gebruik vir kinders met spesiale leer behoeftes.
- Sulke kinders moet net nie aangejaag word nie. Hulle moet ruim geleentheid gegun word om teen hul eie tempo en volgens hulle eie vermoë te vorder. Al neem dit 2 jaar vir ‘n jaar se boeke.
- Die onderrigmateriaal is nie spesiaal vir sulke kinders geskryf nie.
- Moria bepaal nie die datums van kwartale en vakansies in die skooljaar nie.
- Ons akademie behoort ongeveer 30 weke studietyd te neem en hoe u huishouding dit indeel is u saak.
- Dit is plooibaar, om by u eie omstandighede aan te pas.
- Ons beveel tog sterk aan dat u probeer om u vakansies te laat ooreenkom met dié van die staatskole. Daar buite kan moedswillige en selfs vyandige mense wees wat die wêreld vir u sal wil moeilik maak indien u kinders in die skoolkwartaal buite rondloop.
- Ja, hy mag, maar dit het nog nooit gebeur nie.
- Ons probeer juis om elke kind tot sy volle potensiaal te skool.
- Dus: kinders kry genoeg werk dat hy nie verveeld is nie, maar word ook genoeg tyd gegun om te rus.
- Ons verstaan die finansiële impak.
- Dit is wel ‘n uitdaging vir eksamens wanneer twee kinders vir dieselfde vak moet leer en op dieselfde dag en tyd moet skryf.
- Daar is dus 2 stelle boeke nodig.
- Vir graad 1-3 is daar baie werkboeke en hier kan ouers 1.5 stelle boeke koop.
- Een volledige stel en een herregistrasie (halwe stel, sien pryslys vir pryse).
- Die werkboeke word dan dubbel verskaf.
- Werkboeke wat deur Moria uitgegee word, mag u wel kopieer.
- Geen handboeke of werkboeke wat deur ander instansies uitgegee word mag gekopieer word nie, veral grade 4 en hoër. Die wet op outeursreg verbied dit.
- Ja, maar maak seker u is bewus van die volgende:
- Maak seker jy gaan deur alles op ons webtuiste
- Graad R-9 is Moria se eie kurrikulum
- Graad 10- 12 (13) word deur die Cambridge stelsel gevolg.
- Indien jy met Cambridge Graad 10 begin, moet jy dit deurvoer tot Graad 12. Dit kan nie halfpad gestop word en terug skuif na die Suid-Afrikaanse CAPS stelsel nie. Indien so ‘n geval plaasvind, sal jy weer Graad 10 in die CAPS stelsel moet oordoen.
- Volgens wet: geen verskil tussen bogenoemde drie nie.
- Dit is ‘n plek / leerruimte waar kinders daagliks vir die volle tyd van ‘n skooldag, vir 5 dae van die week deur die organisasie geleer word. Albei moet as onafhanklike (privaat) skool geregistreer wees om wettig te kan funksioneer en hulle is welkom om van Moria tuisonderwys-leermateriaal gebruik te maak.
- Meer inligting: moriatuisskool.co.za (Wetlike aspekte en Beleid – uittreksel)
- Volgens volksmond: ‘n Leersentrum (Onderwys hulpsentrum) is ‘n instelling wat leerders op tye wat hulle pas, of selfs voldag, 3 dae per week, bywoon.
- Leersentrums maak van Moria tuisonderwys-leermateriaal gebruik maak, en word soms foutiewelik “tuisskole” genoem.
- Daar bestaan nie iets soos ‘n “tuisskool” in die Suid-Afrikaanse reg nie.
- SA Skole Wet, Wet 84 van 1996, klousule 51 gee toestemming aan ouers om hulle eie kinders tuis te onderrig op sekere voorwaardes.
- Ja, ons verskaf materiaal aan privaatskole / sentrums.
- Kortliks 3 opsies om kinders te skool:
- Staatskool
- Privaat skool (met baie ongemaklike vereistes en peper duur)
- Tuisonderwys Tutor-sentrum.
- Ouers bly finaal aanspreeklik en verantwoordelik.
- Sentrum help ouers met ‘n deel van die werk.
- Dit is nie ‘n privaatskool nie, daarom mag die kinders nie voltyds 5 dae van die week, 7:00 – 14:00 by die sentrum wees nie.
Opsies:
- Kinders kom almal 3 van die 5 dae Sentrum toe (byvoorbeeld Maandae tot Woensdae).
- Jongste helfte kom Maandae tot Woensdae, Oudste helfte kom Donderdae en Vrydae.
- Sentrum is oop vir die hele week maar ouers bring slegs hulle kinders vir die werk waarmee die ouers nie kan help nie.
Sommige Sentrums gee skool op die tradisionele skool model, maar slegs helfte van die vakke (moeiliker vakke), die res doen ouers volledig tuis.
SENTRUMS EN PRIVAAT SKOLE (of enige groep leerders) – hierna genoem SAMEWERKER, bepalings:
- Alle onderrig materiaal wat deur Moria Tuisskoolmateriaal B.K. aan die SAMEWERKER verskaf word word streng deur die Wet op kopiereg en die Wet op outeursreg beskerm.
- GEEN fotostate, skanderings of kopieë wat watter aard ook al mag van die volledige materiaal of dele daarvan mag deur die SAMEWERKER gemaak word nie.
- Die oortreding van enige van bogenoemde punt 1 en of 2, asook die oortreding van die Wet op Intellektuele Eiendom (Intellectual Property) rakende die produkte aard, samestelling, kurrikulum, diens ens. van Moria Tuisskoolmateriaal B.K. sal geag word as ‘n kriminele oortreding en dienooreenkomstig hanteer word.
- In die lig van bogenoemde bepalings word dus bepaal dat die ouers van elke leerder wat elke jaar by die SAMEWERKER inskryf of registreer of deelneem, vir elke leerder sy eie stel boeke, soos met Moria Tuisskoolmateriaal B.K. ooreengekom, sal aankoop.
- Binne dieselfde gesin mag ouer sibbe se boeke deur ‘n jonger boetie of sussie kosteloos gebruik word, maar nie buite die gesin of deur enige iemand anders nie.
- SAMEWERKER sal die toestemming gee dat Moria Tuisskoolmateriaal B.K. met of sonder afspraak die SAMEWERKER mag besoek om bogenoemde bepalings te kontroleer.
- Moria is verder bereid om met SAMEWERKER saam te werk wat aan die voorwaardes, wat in die Wet op Tuisonderwys gestel word voldoen, naamlik:
- ‘n Onderwys-gekwalifiseerde persoon staan aan die hoof van die sentrum se akademie.
- Tuisonderrigsentrums mag slegs ‘n gedeelte van leerders se onderrig tyd onderrig. Die voorgeskrewe tyd van 60% mag deur die Tuisonderrigsentrums onderrig word en die ander 40% tyd moet die ouer self aan tuisonderwys spandeer.
- Indien (b) nie gehandhaaf kan word nie, moet ‘n privaatskool gestig word, dan sal Moria onderrigmateriaal en -dienste aan die skool verskaf.
- Moria sal bewys van die stigting van die skool benodig, alvorens boeke gelewer word.
- Moria Tuisskoolmateriaal kan slegs ‘n vorderingsverslag uitreik as die totale Moria pakket gevolg is. Enige persoonlike voorkeure moet dus addisioneel aangebied word en nie in die plek van Moria se voorgeskrewe vakke nie.
Tans is Moria as “skool” nie by Sportgeleenthede betrokke nie. Ouers kan egter individueel inskryf.
A AVS (Afrikaner Volkseie Sport)
Alle tuisskolers in Suid-Afrika is deur AVS uitgenooi om by hulle sport liga deel te neem. Dit bied elke kind die geleentheid om in sport uit te styg. Sportsoorte soos Rugby, 7’s Rugby, Hokkie, Krieket, Netbal, Snelbal (Fast ball), Hokkie en Gholf word beoefen.
U kan meer inligting bekom by die Hoof Uitvoerende Beampte:
Ds. Stans 083-462-7411, www.bokkieweek@gmail.com
B SACSSA (South African Christian School Sports Association)
Alle tuisskolers in Suid-Afrika is deur die sportvereniging van Christenskole, SACSSA, uitgenooi om by hulle skole aan sport deel te neem. Dit bied elke kind die geleentheid om tot op hoogste vlak (nasionaal) uit te styg in sport. Sportsoorte is byvoorbeeld atletiek, landloop, skaak, tennis, swem, krieket, sokker, netbal ens. U kan skakel met Johan du Plessis by (012) 252 3025 / 082-563-8519 www.sacssa om uit te vind waar u naaste geleentheid is.
Eksamen word aanlyn op internet-Zoom, voor ʼn Moria-toesighouer geskryf. Alle kandidate wat die dag eksamen skryf, skakel in op Zoom waar ‘n Moria-personeellid sal toesig hou. Ouers moet vertroud wees met Zoom en ‘n GOEIE internet sein vir u Zoom-rekenaar het.
ʼn Kandidaat ontvang sy vraestel per e-pos net voor hy moet skryf. Hy druk sy harde kopie vraestel uit op ʼn kleur drukker. Dan skryf hy, waar die Zoom-kamera hom duidelik kan sien en hoor.
TERUGSTUUR PROSEDURE:
Bestudeer die EKSAMENREGLIMENT vir die terugstuur prosedure.
- Ja, verseker. Die platform bly steeds Zoom.
- Dus julle skryf byvoorbeeld by die kerk, maar gebruik julle skootrekenaar of hulle rekenaar om op Zoom in te skakel.
- Julle is steeds in die “Eksamen lokaal” saam met al die ander leerders en persone wat die drukkers moet werk.
- Ons stuur nog steeds die vraestel net voor die eksamen begin, wat dan uitgedruk moet word vir die kind.
Ons haas ons tans om so gou moontlik die rapporte af te handel. ʼn Paar grade het dit reeds ontvang. Dankie vir u geduld.
- Alle leerders in alle grade skryf jaarliks 3 eksamens. Moria gee nie rapporte vir kwartaal 1 en 2 nie. Eerste 2 kwartaal-eksamens bepaal of u kind al die werk van die kwartaal kon bemeester. Ouers bepaal dit deur self kwartaaltoetse op te stel en die kind dit te laat skryf. Moria modereer.
- Kwartaal 4: Graad 1-3 lê hoofsaaklik mondelike eksamen aanlyn af. Die mondeling word deur Moria vakkundige afgeneem.
- Graad 4-9 skryf eindeksamen in November onder aanlyn Moria-toesig. Moria maak gebruik van die Zoom platform. Vraestelle word per e-pos na die ouers gestuur, die kind lê die eksamen tuis op Zoom af en e-pos dit terug.
Vraestelle word deur Moria-personeel nagesien en ‘n rapport word uitgereik.
- Die afgelope dekade het tegnologie en die algemene leefwêreld baie verander en verbeter. Al erken Moria dit, besef ons ook dat alles in die onderwys nie net verbeter het nie, die vorige bedeling was in menige opsigte beter as die huidige. Moet dus asseblief nie aanstoot neem indien u soms in hierdie handboek “ou begrippe” teëkom nie, dit bly steeds die beste en mees volledige handboek vir hierdie vak.
- Indien u en/of u kind ongelukkig is waar hy of sy nou is, vererger die probleem hoe langer u kind daar aanbly.
- U wil tog nie hê dat u kinders permanente skade moet optel nie.
- Moria probeer kinders se persoonlikheid en lewensbeskouing op ‘n jong ouderdom reg en behoudend te vorm. Dit begin reeds in die laerskool! Indien u dus eers iewers in die toekoms by Moria wil begin, word die skade net al groter.
- Moria se akademiese standaard is ook hoër as sommige ander stelsels. Dus, hoe langer u wag, hoe moeiliker kan die akademiese aanpassing word.
- Die voorstel is dat u so gou moontlik skuif, tot voordeel van u kind.
- Sterkte met u besluit.
-
- Moria het beskikbare Tutors (vakkundiges) wat enige tyd sal help wanneer leerders sukkel met die akademie.
- Ons Tutors werk aanlyn met die Zoom program wat akademiese hulp baie maklik maak.
- Indien dit slegs ‘n eenmalige klein probleem is, kan die Moria nommer geskakel word, maar indien u kind oor die algemeen sukkel met ‘n vak (soos byvoorbeeld Wiskunde), sal die hulp van ‘n tutor beter werk.
- Ouers betaal die Tutors ‘n tarief per uur, waarin al die onduidelikhede van die afgelope week of twee drie uit gesorteer word.
