Dr Lientjie Angell

Christelik, Afrikaans, Uitnemende Standaard

Dr. Lientjie Angell:

Liewe Moria Tuisskool leerling en Mamma,

Dis min of meer vandag 17 jaar sedert die eerste paar skoolweke van my matriekjaar en terwyl ek so terugdink, het ek gedog dit sal lekker wees om vir al die Moria leerlinge wat self begin het met hulle nuwe skooljaar, ‘n briefie te skryf.

Ek sit hier by my lessenaar in ons huisie in Bedfordshire, met die wit sneeu van die Britse winter buite die venster, en ek onthou nog soos gister die gevoel van ‘n nuwe skooljaar en nuwe handboeke. Ek onthou die deurlees van die eerste paar weke in die jaarbeplanner, waar die prentjies baie meer aantreklik was as as die inhoud van die tablelle! Ek onthou hoe ek my handboeke in kleurvolle papier oorgetrek het, in die hoop dat dit die massas werk binne-in bietjie sal opvrolik en ek onthou die gespanne knop op my maag aan die begin van elke nuwe skooljaar, geknoop in die onsekerheid en vrees vir die onbekendheid van die nuwe jaar. Gaan ek die mas opkom? Gaan ek betyds deur die massas werk kom (soveel meer as wat my maats in die gewone skole hoef deur te werk!)? Gaan ek al die wiskunde verstaan?! En bowenal, is my ouers besig met die regte ding?

Ek wens ek het in daardie jare die 20-20 visie gehad wat retrospeksie ‘n mens bied! Maar al wat ons toe gehad het, was ‘n blinde geloof wat weet dat as mens getrou wandel waar God lei, Hy SAL voorsien en die weg gelyk maak (Eks. 22:11-14, Spr. 3:5-6, Jer. 29:31, en Jesaja 45). Gewapen met hierdie blinde geloof het ons geloop, een tree op ‘n slag, tot aan die einde van die bekende pad en dan het Hy altyd, getrou, weer die nuwe pad gewys.

Vandag wil ek graag ‘n glimps van my eie pad met julle deel, in die hoop dat dit dalk ‘n bietjie sal bemoeding, veral op die drumpel van ‘n nuwe skooljaar, met sy eie vreemdgheid, onbekende uitdagings en dalk, as jy die lewe so ernstig soos ek opgeneem het, sy eie stresvolle knop op jou maag!

Ek is nou al vir agt jaar in Engeland, nadat ek aanvanklik hiernatoe gekom het om my doktorsgraad (PhD.) in astrofisika te doen. Ek werk nou al vir so drie en ‘n half jaar in die vyfde grootste bank in die VK (16de grootste bank wêreldwyd). Ek is nou al vir twee van hierdie drie en ‘n half jaar in die Finansiele Misdaad span, waar ons kragte saamsnoer om te probeer verseker dat die bank nie klante het wat skuldig is aan geldwassery, mensehandel, terroriste finansiering en ander kriminele wangedrag nie. Wanneer ons wel individue opspoor wie se finansiële bewegings oortuigend suspisieus is aan hierdie tipe wangedrag, word hulle gerapporteer aan die “National Crime Agency” (soos die FBI van Engeland).

In die middel van laasjaar het ek ‘n span gelei in ‘n internasionale, drie-dag techsprint, aangebied deur die finasiele reguleerder van die VK (die reguleerder maak seker die banke doen hulle besigheid binne die wet). Ons moes ‘n nuwe generasie (nextgen) tegniese oplossing van begin tot einde ontwikkel, wat een van die tipiese leemtes in die bevegting van geldwassery aanspreek. Daar was 16 spanne en meer as 200 bywoners, verteenwoordighed van meer as 100 organisasies. My span het twee van die vier pryse gewen! Hierdie resultaat, tesame met die feit dat ek reeds op my eie ‘n masjienleer projek begin het in die begin van 2018, het aanleiding gegee tot my bevordering as Finansiele Misdaad Innovasie bestuurder teen die einde van 2018. Dit is ‘n pos wat spesiaal vir my geskep is, met ‘n rolbeskrywing wat ek self geskryf het. My hoofdoel is om prototipes van nuwe tegniese oplossings (wat gebruik maak van dinge soos blockchain en masjienleer) teen finansiele misdaad, te help ontwikkel en toets.

Ek is mal oor hierdie werk, want vreemd soos dit mag klink, gebruik ek baie van dieselfde tegnieke wat ek in astrofisika gebruik het om die data te analsieer, of patrone in die data deur masjienleer op te spoor, nou net in die belonende veld van finansiele misdaad bevegting!

Ek was baie dankbaar vir die wonderlike geleentheid om ‘n posisie te kry wat spesiaal rondom myself en my vermoens gebou is, sowel as die begin is van ‘n splinternuwe innovasie span in ons area! Hierdie tipe strukturele veranderinge is SO skaars in ‘n maatskappy van hierdie globale grootte – ‘n mens draai nie sommer die Titanic nie!

As deel van my retrospeksie aan die einde van laasjaar, het ek ‘n interessante patroon in my lewe begin raaksien. Telkemale het ek nie die norm van die samelewing se loopbane of die “noodwendige volgende stap” gevolg nie. Inteendeel, ek skraap my eie pad en veg vir wat ek graag WIL doen in my loopbaan. Gewoonlik is hierdie pad ver buite die boks!

Op skool het ek besluit ek wil graag ‘n jaar vroeër matriek skryf, sodat ek die geleentheid kan kry om meer as ses matriek vakke te doen oor die loop van twee jaar – ek wou van meer dinge leer as wat ses vakke my kon bied! Met die genade van die Here, bloedsweet en baie ondersteuning van my ouers, kon ek dit regkry en in die proses het ek op die ou end 11 matriek vakke voltooi.

Ek het toe by die PUK (nou NWU) gaan studeer. Ek was vreeslik lief vir die sterre en wou graag nagraads in astrofisika doen, waarvoor ‘n voorgraads in fisika en wiskunde nodig was. Maar ek was ook mal oor biologie op skool en wou nie vrede maak met die idee dat ek heeldag moet somme maak, met geen welkome biologie-breek nie! So toe studeer ek ‘n tweede graad in menslike fisiologie, parallel met my fisika, gesprei oor ‘n effens langer tydperk. Glo my, dit was nie sonder weerstand nie! Die fisika proffie was niks lus om my toestemming vorms te teken nie, ek was gedwing om my pa saam te vat! Uiteinde? Teen die tyd wat ek my MSc. in fiska klaargemaak het, was ek ook klaar met my voorgraads in fisiologie en kon ek inskryf vir ‘n honneurs in kardiovaskulêre fisiologie die jaar daarna – feeste! Buite die boks.

Daarna wou ek graag hierdie twee velde kombineer in my PhD.. Ek het besluit ek beter ‘n PhD. oorsee gaan doen aangesien daardie universiteite het baie meer internasionale teleskooptyd het, want hulle regerings het baie beter internasionale samewerkings ooreenkomste. Na maande se wik en weeg tussen twee aantreklike beurse, een in biomediese ingenieurswese, en een in astrofisika, het die bekendheid van astrofisika (gegewe die vreemdgheid wat immigrasie sou meebring) my gedryf om met die astrofisika studieleier in Engeland te onderhandel: ek wou sy PhD. doen, maar asseblieftog nie suiwer astrofisika nie, eks vreeslik lief vir die biologiese wereld, en wil kyk of ons ‘n sinergie tussen die twee velde kan skep. Soos die Here dinge bestuur, het hy wonder bo wonder dieselfde passie gehad en bied my toe aan om deel van my navorsing te fokus op die aanpas van masjienleer algoritmes, wat ‘n hospitaal in Boston gebruik het vir die opsporing van biologiese strukture, tot die opsporing van nuutgevormde sterre in samewerking met ‘n PhD. student van Harvard. Dit het my van oor tot oor laat glimlag, want dit was buite die boks!

Aan die einde van my vier jaar lange PhD., het my eksaminators tydens my proefskrif verdediging opgemerk dat die hoofstuk oor masjienleer genoeg was om ‘n M.Sc op sy eie te maak! Buite die boks.

Na my PhD. het ‘n kombinasie aan broodnood en my behoefte om bietjie langer in die VK te bly, my gedryf om ‘n posisie by die bank te aanvaar waar ek nou werk. Na ‘n jaar het ek ‘n interne skuif gemaak na ‘n posisie as tegniese analis in die Finasiële Misdaad span en die res van die storie ken jy reeds! Weereens, buite die boks!

Ek het al bogenoemde as vanselfsprekend aanvaar, totdat ek vir ‘n oomblik stilgestaan en ‘n interessante patroon in my lewe begin herken het. Toe ek die oorsprong soek, was dit in my Moria-jare!

Tuisskool het my geleer dat, met God se hulp, genade en seën, ‘n mens baie meer beheer het oor die rigting van jou lewenspaadjie as wat die wêreld vir ons wil wysmaak. JY is die een wat daardie rigting bepaal, maar as jy jou langtermyn motiverings reg kies en hard werk, is daar min dinge wat jou hoef te stop! Jy het die unieke geleentheid en voorreg om buite die beperkings van ‘n normale struktuur te leer en ontwikkel.

Ek onthou die inpak van die volgende reël in die INVICTUS gedig toe ek dit die eerste keer gehoor het: “It matters not how strait the gate, How charged with punishments the scroll, I am the master of my fate, I am the captain of my soul.”

Nou ek wil hierdie natuurlik kwalifiseer. Die filosofie is net werklik suksesvol as God steeds aan die stuur van sake bly en ons onsself onderwerp aan Sy Wil, MAAR, buiten dit, hoef ons nie vir onsself te laat voorskryf deur die norm van die samelewing of mense se verwagtings nie. You are the master of your fate! JY en jy alleen kan, met God aan die stuur, die koers van jou lewe bestuur. Jy HOEF nie die gewone groef te volg nie, jy MAG maar buite die boks dink!

Elke mens doen dit op sy eie manier en mense het verskillende talente, maar die belangrike ding is dat jy die wilskrag en wersketiek het om vir jou drome te veg en sal aanhou veg sonder om moed op te gee – totdat jy hulle behaal het!

So ek wil jou graag met hierdie woorde in 2019 los: gaan sit beide jou huiwering en die boks eenkant en gaan maak ‘n lysie van jou grootste drome. Dan vertel jy daardie lysie vir die Here en nooi Hom uit om te deel in hierdie pad. Gaan trek jou bedreigende handboeke in kleurvolle papier oor (as dit jou sal help soos vir my!) en begin werk en veg vir jou drome, elke dag, totdat jy hulle behaal het! Jy het reeds die wenresep in jou hande, want jy is ‘n tuisskoler en tuisskolers volg nie die norm nie, hulle leer om buite die boks te dink!

Ek is saam met julle opgewonde oor die toekoms!

Groete en die Here se rykste seën vir julle toegebid,

Lientjie