DIE BEGIN

Christelik, Afrikaans, Uitnemende Standaard

De Villiers gesin

WAAR HET MORIA BEGIN

WAAR EN WAAROM HET MORIA BEGIN?

November 1991 – ‘n vriendin nooi my, Helena de Villiers, om saam te ry om haar gestremde kind by ‘n spesiale skool te gaan haal. Met onderwys in my are en self moeder van ‘n Downsindroomdogtertjie, vra ek of ek die klasse mag besoek.  In die eerste klassie sit daar ‘n Downsie. Terwyl hy blokkies inmekaar probeer druk, loop die kwyl uit sy mondjie en daar is nie ‘n helpende hand nie. My hart ruk.  Is dit my Raldi se toekoms? Die koshuisbadkamer is ‘n verdere skok – sementvloere en mure sonder teëls.  Geen warm huisgevoel nie. Toe ons ry weet ek een ding verseker: dit sal verraad wees om Raldi in so plek te plaas.

In Februarie 1992 trek ons Potchefstroom toe. Raldi is amper 5 jaar oud. Volgens die TOD (Transvaalse Onderwysdepartement) en nasionale wetgewing moet hulle op 7 jaar in ‘n Spesiale Onderwyssentrum geplaas word.  In Augustus 1992 skakel ons in by die Kinderkrans van ‘n NG-Kerk.  Een van die dames in die gemeente, *Alma, meld aan as personeellid en Raldi beland in haar klas.  Intussen vat ek vir Raldi na ‘n spraakterapeut van die Departement van Onderwys, want Raldi se spraak het net ontwikkel tot by ba-ba en ma-ma. Die terapeut verhuis en ons land by Hanlie Degenaar, ‘n entoesiastiese mens wat geen uitdaging as te groot beskou nie.  Ons werk aan spraak en begin met Bliss – ‘n spesiale program vir mense met taalgebreke. Intussen gaan Raldi voort met arbeidsterapie en ‘n program vanuit Engeland.  Die televisiereeks Corky, met ‘n Downsie as hoofkarakter, word uitgesaai en die perspektief dat skole vir gestremdes hand-aan-hand met hoofstroomskole kan funksioneer word bekendgestel.

Gelukkig is daar ‘n skool vir gestremdes in die dorp. Ek probeer in 1994 vir Raldi inskryf – sy word sewe jaar oud. Ek doen eers ‘n vooraf besoek en kry nuwe respek vir onderwysers wat probeer onderrig terwyl elke sin  onderbreek word deur ‘n kind met ‘n ander probleem.  Speeltyd is ‘n voltydse werk want die kleintjies het geen benul van wat gevaar is nie.  Raldi besoek die skool vir ‘n paar weke, tot sy een oggend uit die kar klim, haar magie vasgryp en sê haar magie pyn. Ek besef hierdie gaan nie werk nie. Ek besluit om Raldi deur ‘n opvoedkundige sielkundige te laat evalueer. Miskien is skeidingsangs die probleem. Hanlie neem ‘n video van Raldi en stuur vir die Departement Oudiologie by Universiteit van Pretoria om te evalueer en hul bevind dat sy reeds te ver gestimuleer is vir spesiale onderwys. Die toetse wys ook negatief vir skeidingsangs. Is hoofstroomonderwys nou ‘n moontlikheid?

Met raad van die Onderwysdepartement, besluit ons om ‘n kleuterskool te probeer. Die hoof van die kleuterskool stem in om Raldi te aanvaar, nadat sy dit met haar personeel bespreek het. Raldi se juffrou is toe niemand anders as Alma, dieselfde engel-van-‘n-vrou in wie se Kinderkransklas Raldi was in 1992. Die Here se plan is perfek! Vir 1994 is die saak uitgesorteer.

Intussen verander die regering en vreemde, onchristelike beginsels sluip in die skoolleerplanne in. Ons begin ‘n alternatief ondersoek. Dalk ‘n Christenprivaatskool? Fasiliteite is ‘n enorme vereiste. Een aand tydens ‘n kuier vertel vriende vir ons van ouers wat hul eie kinders onderrig in Amerika. Dadelik weet ons dit is die antwoord, maar dit is nie in Suid-Afrika gedoen nie en waar begin mens?  

In 1995 moes Raldi na ‘n Spesiale Onderwyssentrum. Volgens die opvoedkundige sielkundige mag ‘n leerder tot 8 jaar in die kleuteskool bly. Raldi se kleuterskool juffrou bevestig dat Raldi al die aktiwiteite doen, net stadiger en sy aanvaar Raldi vir nog ‘n jaar.

Daar ontstaan chaos met die verandering van die regering in die onderwys. Ons kontak die Onderwysdepartement en as gevolg van Hannes (my man) se werk as Kurrikuleerder van landbouleerplanne staan hulle alle leerplanne van alle vakke aan ons toe. Teen die einde van 1995 besoek ons opedae by skole om te probeer vasstel of Raldi in die hoofstroom opgeneem kan word.  Een van die laerskole vereis ‘n skoolgereedheidstoets. Raldi slaag die eerste twee ure van die vier-uur-toets gemaklik. Die volgende twee ure is net te veel vir die moeë lyfie en uiteindelik slaag sy nie. Terug by die kleuterskool vra ons of Raldi nog ‘n jaar kan aanbly, maar die hoof sê dat Raldi fisies te groot word om met die kleiner kinders in die skooltjie te speel.

Dit is 1996 is Raldi agt jaar oud.  Dit word dringend om ‘n oplossing vir 1996 te kry.  Ek nader ‘n graad 1-juffrou van ‘n nabygeleë skool en vra of ek haar lesings kan koop vir ‘n jaar. Sy stem in en vir 1996 tuisskool ons net verder soos die terapieprogramme in elk geval was. Ek sit my jongste dogtertjie, Marguerite, saam met Raldi in die “skool”.  Sy is ses jaar oud en tuisskool terwyl dit nog nie wettig is nie.

Intussen probeer Hannes en twee vriende die sedelike en akademiese verval, wat in groenskrifte bekend gemaak word, beveg. So ontmoet ons vir Leendert en Karen van Oosterum, nog ‘n ouerpaar wat weier om hulle kinders in die skool te sit met die nuwe, gewysigde leerplanne. Leendert stig die Tuisskoolvereniging met vier aanvanklike lede. Kragte word saamgesnoer en Leendert woeker in Amerika om steun te werf om tuisskool te wettig in Suid Afrika – en die Here voorsien – tuisonderwysouers van Amerika oorval die minister van onderwys met briewe en fakse en tuisskool as alternatief tot staatskool of privaatskool, word gewettig in November 1996.  Op 15 November 1996 word Wet 84 van 1996 gepubliseer wat tuisskool amptelik erken as wyse van onderrig.  Ons is toe reeds ‘n paar jaar met Raldi en ‘n jaar met Marguerite, sonder die bevestiging van dié wet, aan die gang. Op daardie stadium was daar reeds een ander tuiskoler wat die materiaal saam met ons gebruik het.

In 1996 is ons eerste personeellid, Mev. Richter, aangestel om vir van die Grondslagfase boeke te begin skryf.  Die navrae van ouers wat akademiese werk soek om ook hulle kinders tuis te onderrig het skielik begin toeneem. In 1997 het Moria sewe kliënte gehad wat saam met ons die eerste sooie moes breek om die braakland te ploeg.  As bevestiging vir ons tuisskoolreis, laat weet ek die skool dat as Marguerite moet inskryf sy by graad 2 moet begin aangesien sy graad 1 suksesvol voltooi het. Die skool weier haar toelating tot die graad 2-klas en net daar word Marguerite een van die eerste amptelike tuisskolers van Suid-Afrika! Ons word oorval deur mense wat skielik wil weet wat aangaan en of ons besef hoe nadelig dit vir haar gaan wees. Vir ‘n gestremde kind is dit reg, maar ‘n normale kind móét in die skool wees.  Asof die Here ons nie tot hier gelei het nie.

Intussen word meer gruwelike wetgewing deurgedruk en ons haal in 1997 ons oudste kind, Lientjie, ook uit die skool.  Nou is die vet in die vuur, want sy was die toppresteerder. Ons word by die Departement van Onderwys verklaar, maar het reeds soveel navrae ontvang dat ons Moria Tuisskoolmateriaal stig en registreer.

Hoekom die naam MORIA?  Moria beteken die Here sal voorsien en Hy het – selfs regerings het verander om te voorsien dat tuisskool ‘n wettige manier van onderwys word. In Abraham se tyd was dit die gebruik om kinders te offer – aan afgode. Die Here toets Abraham se gehoorsaamheid om te kyk of hy bereid is om sy kosbaarste te offer, maar omdat Hy die God van lewe en nie van dood is nie, verander Hy die afgodsofferaltaar na ‘n altaar van aanbidding vir die uitkoms wat Hý voorsien het.  Daarom eer ons Hom vir die uitkoms wat Hy voorsien het om die kinders van Suid-Afrika nie te offer op die afgodsaltaar van akademie sonder die absolute waarheid nie, maar om hulle in die veiligheid van Christenhuise in sy weë groot te maak – soos dit in Bybelse tye gedoen is.

* Skuilname word gebruik